Description

Hierdie BOS Kampeerder het sy ontstaan uit die behoefte om ten volle onafhanklik, enige plek waar jou voertuig jou kan neem, te kan kamp met die gerief van lekker eet, ‘n warm stort en lekker slaap.

Na deeglike navorsing en ook die aankoop van ‘n kampeerder, het ons besef dat mense se behoeftes verskil. Daarom het ons besluit om eerder self een te bou wat aan ons behoeftes voldoen.

Die belangrikste behoeftes was:  

  • Een voertuig wat kan kamp, werk én kerk toe gaan.
  • ‘n Kampeerder wat nie permanent aan jou voertuig vas is nie, sodat jy dit kan afhaal en jou voertuig weer vry kan gebruik.
  • Alles in een, kompak ontwerp.
  • Nie ‘n lompe ding wat oor die kante van jou bakkie hang en die 4×4-vermoë beïnvloed nie.
  • Moet enige plek, sonder enige geriewe, gemaklik kan kamp, en natuurlik moet jy regop daarin kan staan.
  • Oplaai en aflaai vanaf die voertuig moet deur een persoon gedoen kan word, binne ‘n realistiese tyd.
  • Dit moet stewig op sy eie kan staan en ten volle benut kan word.
  • Moet ‘n redelike gemaklike ryspoed kan handhaaf en nie ‘n groot invloed op brandstofverbruik hê nie.
  • Moet maklik opgeslaan en afgeslaan kan word en nie iets wees waarna jy opsien nie.
  • Moet nie te beknop wees nie en genoeg beweegruimte hê indien jy weens ongure weer binne moet bly.
  • Moet op die meeste bakkies kan pas met minimum modifikasies.

Die eindproduk na baie toetsing is:

  • ‘n Kampeerder wat op enkelkajuit-, ekstrakajuit- en dubbelkajuitbakkies pas.
  • Kan deur een persoon binne 30 minute op- of afgelaai word (ek doen dit binne 20 minute).
  • Wanneer dit van die voertuig afgehaal is, staan dit besonder stewig en beweeg glad nie wanneer jy binne is nie.
  • Steek nie verby die kante van die bakkie uit nie en is skaars sigbaar in die kantspieëls. Dit lyk soos ‘n gewone moderne kappie wat net hoër is.
  • Binne toegerus met ‘n dubbelbed, ses laaie vir klere, daklig, bedliggies, sitplek, bedkassie met laaiplek vir selfone en genoeg ventilasie.
  • Jy kan regop in- en uitloop met ‘n leer wat soortgelyk aan trappe is, sodat jy gemaklik vorentoe kan op- en afklim.
  • In die vloer is daar twee deksels. Een gee toegang tot die battery en waterpomp. Die tweede deksel bied ‘n oop pakruimte vir addisionele kamptoerusting.
  • Binne is daar ook plek vir ‘n Porta Potti.
  • ‘n Addisionele afdak span oor die hele kampeerder om hitte te beperk, beskerming teen swaar reën te bied en steeds toe te laat dat die vensters oopgemaak kan word.
  • ‘n 2,5 m kant-awning span oor die kombuis.
  • ‘n Kantseil rol langs die voertuig af by die kombuis. Dit beskerm nie net die voertuig nie, maar hou jou ook skoon wanneer jy in die kombuis werk terwyl die voertuig vuil is.
  • ‘n Wasgoedsak met ‘n toegewyde plek om dit te bêre.
  • ‘n Stort wat binne oomblikke oopgeslaan word en ruim genoeg is om gemaklik aan en uit te trek. Warm water is binne sekondes beskikbaar deur middel van ‘n gastoestel. Die stort is só ontwerp dat een van die kantdeure van die kampeerder binne die stort oopmaak. Alles wat jy nodig het om te was en reg te maak, kan dus net daar bly en hoef nie elders gebêre te word nie. ‘n Rubberstortmat is ook ingesluit.
  • Aan die linkerkant van die kampeerder maak die hele sykant oop om ‘n ruim kombuis te vorm. Hier is hope pakplek vir kombuisware en vyf laaie vir kruideniersware.
  • Die kampeerder is toegerus met ‘n 60 L National Luna vlekvrye staal dubbelkompartement-ys-/vrieskas wat onafhanklik aan die agterkant uittrek. As jy langs die pad stop en iets koud wil uithaal, is dit maklik bereikbaar.
  • Standaard toegerus met ‘n 120 L watertenk en ‘n drukpomp wat outomaties afskakel wanneer die kraan toegedraai word en weer aanskakel wanneer dit oopgemaak word. Dit beteken lopende water soos by die huis. ‘n Watermeter wys ook die watervlak.
  • Agter die yskaslaai is daar twee verwyderbare warm- en kouewaterkrane wat skottelgoedwas maklik maak, of net vinnig water tap wanneer jy dit nodig het.
  • Die kampeerder word voorsien van twee opvoutafels wat bo-op die dak gestoor word. Die tafels se hoogte is verstelbaar om gemaklik aan te sit en eet of om by te staan.
  • Langs die yskas is daar ook ‘n klein afslaan-tafeltjie wat dit maklik maak om vinnig iets neer te sit, ‘n toebroodjie te maak of ‘n koppie koffie langs die pad te kook.
  • Bo-op die dak is daar reeds voorsiening gemaak vir die berging van grondseile en windbrekers.
  • ‘n Volledige batterystelsel is ingebou, wat ‘n 100 Ah litiumbattery insluit. Die battery laai deur 220 V of vanaf jou voertuig. Die 220 V-aansluiting geskied deur middel van ‘n eksterne kragpunt en koord (ingesluit), terwyl ‘n DC-na-DC-laaier die battery vanaf die voertuig laai. Geen knoppies of programmering is nodig nie – die stelsel werk volledig outomaties. Daar is ook voorsiening vir ‘n sonpaneel indien jy dit later wil byvoeg.
  • Verder is die kampeerder toegerus met ‘n poeierbrandblusser sowel as ‘n litiumbrandblusser.
  • Alles is permanent ingebou. Of die kampeerder nou op die voertuig is of apart staan, alles is steeds beskikbaar.

Die enigste los items wat nie binne die kampeerder pas nie, is die vier bene en vier stabiliseerstange wat in die bak van die voertuig, bo-op die wielboë, gebêre word.

Ons het reeds duisende kilometers met hierdie kampeerder afgelê en ongelooflik baie plesier daaruit geput. Die lekkerste van alles is om te kan kamp waar jy wil. Ons is veral lief daarvoor om bo-op duine en in rivierbeddings te kamp.

Die grootste voordeel is dat jy heeltemal onafhanklik is en kan oornag waar jy wil.

Die BOS Kampeerder is tans opgeslaan op ‘n bakkie binne Safari 4×4. Kom kyk gerus self en ervaar die gevoel.

 Groete, Nelus en Andrea